This newsletter in English

Nuusbrief

Februarie 2001

Ter Nagedagtenis

Neels du Plooy

Neels du Plooy

Ons geliefde bestuurder en sekretaris, Neels du Plooy, is oorlede na ‘n ses maandelange stryd teen kanker.

Neels het in Januarie verlede jaar tot die Sending toegetree met die volgende woorde:

“Ek wil die res van my lewe God in Sy koninkryk dien.”

Min het hy geweet hoe profeties hierdie woorde sou wees.

Die laaste paar dae voor sy dood, was Neels fisies so swak dat hy die Woensdag nie kon opstaan nie.  Ten spyte daarvan, het hy Donderdag met groot moeite sy werk aangepak.  Die middag is Neels egter na sy seun se huis om by sy kleinkinders te wees.  Maandag word hy opgeneem in die hospitaal.  Op Woensdagmiddag, 7 Februarie, verlaat hy die aardse woning om met die Vader te wees.

Neels laat ‘n erfenis agter.  As hy met iets begin het, het hy letterlik tot die dood toe daarmee volhard.  Hy sou nooit iets begin sonder om dit volledig af te handel nie – hy het nooit iemand in die steek gelaat nie.  Wanneer daar probleme opgeduik het, sou hy soek na ‘n oplossing en nie by die oorsaak vassteek nie.  Ten spyte van vele terugslae in die lewe, het hy nooit gekla nie.  Selfs al het mense hom in die rug gesteek, het hy nooit sleg van enigeen gepraat nie.  Neels is voorwaar ‘n voorbeeld vir dié wat agterbly.

Neels se dood laat ‘n groot leemte.  Hy laat ons egter agter met ‘n administrasiestelsel wat so glad verloop dat die sending sonder enige onderbreking kon voortgaan!

Voorwaar ‘n man van God – ‘n man met die hart van Christus.

Wat kan ons sê ter nagedagtenis van so ‘n persoon? 

Slegs dit: “Dankie Neels.  Ons weet jy is nou met Jesus en Sy heiliges.”

Bid asseblief saam met ons vir sy familie wat agtergebly het: sy vrou Isabel, sy seun Neelsie met sy vrou Juanita en die kleinkinders.                                          

Ewald Joubert


Ossetië

Verlede jaar het ons die visie gekry om evangelisasie deur middel van dissipelskap-opleiding in Ossetië te implementeer.  As gevolg van die toenemende agteruitgang van ons ekonomie was die projek voortdurend in die weegskaal.  Ons het egter volhard in gebed, en God vertrou om ‘n span bymekaar te roep, asook die nodige te voorsien om dit moontlik te maak.  Opleiding het begin die oomblik toe ‘n span van spesialiste gevorm is – ten spyte daarvan dat die nodige fondse nog nie beskikbaar was nie.  Ons het die stap in geloof geneem.  Die vier persone wat genooi is het die nood begryp en die visie gedeel, en het uit persoonlike fondse bygedra.  Verder was dit vir elkeen ‘n groot opoffering om dit mee te maak.  Die sukses wat daarop gevolg het, sou egter nie moontlik gewees het sonder hulle opoffering nie.  Dankie vir Stefan, Hensie, Elizabeth en Pieter.

Gedurende November het ons gevra vir gebedsondersteuning in die lig van die sensitiewe omstandighede waarin ons ons sou begewe.  Ons doelwit was ‘n intensiewe opleidingsprogram vir pastore en kerkleiers in Vladikavkaz, die hoofstad van Ossetië. Die suide van Rusland is oorwegend ‘n Moslembeheerde gebied. Vladikavkaz lê halfpad tussen die Kaspiese en Swart See aan die Noordelike voet van die Kaukasusgebergtes, en is omring deur ontoeganklike, vyandige buurstate. Net buite Vladikavkaz het ‘n mengelmoes (goeie én minder goeie) vlugtelinge vanaf Tsjetsnië, die naaste buurstaat en bekend vir opstande en onluste, in vlugtelingkampe ‘n tydelike heenkome gevind. Verder oos lê Dagestan, grensend aan die Kaspiese See en ontoeganklik vir buitelanders, oftewel alle Westerlinge. Aan die suidekant lê Georgië (die geboorteplek van Stalin), Armenië en, Azerbaijan

Die kerk in Ossetië is vir jare geïntimideer deur die groei van Islam, wat nou ‘n toenemende bedreiging is na die val van Kommunisme.  Ten spyte daarvan het die kerk oorleef en selfs ongelooflik gegroei – die vrug van talle gebede van getroues.  In die lig van die afgeleë ligging, asook die immerteenwoordige bedreiging van rebelle in Tsjetsnië, het weinig sendelinge dit egter daarheen gewaag.  Dit is na hierdie gebied wat ons geroep is en ons het net weereens ervaar dat die Here getrou is aan ons gebede en roeping:

“Om te gaan waar die grootste nood is, daar waar ander nie gaan nie.”

Die res is geskiedenis.  Die uitreik was die eerste van sy soort wat ooit in Vladikavkaz plaasgevind het, en het deure oopgemaak vir ander wat daarop sal volg.  Die Here het op ‘n dramatiese wyse voorsien in al die behoeftes in antwoord op julle volgehoue gebede en deur julle vrygewigheid.

Sestig afgevaardigdes vanaf geslote en verarmde lande het hierdie ongelooflik geseënde seminaar bygewoon.  Kortweg was die fokus van die hele seminaar die toepassing van Stiltetyd, Gebed en Bybelstudie in die gelowige se lewe.  Meer as 15 kerke en 40 groepe in Suid-Rusland (sommige vanaf state so ver as Azerbaijan in die Suide), het nou opleiding in ‘n praktiese en gefokusde dissipelskapprogram waardeur vermenigvuldiging in hulle gemeenskappe kan plaasvind. 

Die seëninge het nie daar geëindig nie: die Door of Hope radioprogram word vanaf Januarie 2001 deur Radio NOMCC in Vladikavkaz uigesaai!

Stefan en Hensie se bydrae was van onskatbare waarde vir die sukses van die hele uitreik – deels te danke aan hulle eie ervaring in die Russiese sendingveld.  Stefan se natuurlike leierskap het na vore gekom in sy werk binne die gemeentes.  Behalwe dat Hensie gehelp het met die moeilike taak om die materiaal in die groepe te implementer, het sy ‘n ware bediening onder die jeug gevestig.  Die fokus was die uitbeelding en uitdra van die Evangelie deur die kunste.  Dit is tot ons spyt dat ruimte foto’s beperk.  Werk onder die jeug is veral uitdagend – die opwinding wat die wêreld bied is soveel aanlokliker as die kerk.  In ‘n skrale twee weke was daar egter ‘n omwenteling sigbaar, selfs onder die jong mans.  Pastoor Piotr getuig dat so iets nog nooit vantevore beleef is nie.  Ons kan nie anders as om die Here al die eer te gee nie!

Die gebedslewe van die gelowige, en hoe dit ander areas van die lewe raak, is op ‘n sensitiewe wyse deur Elizabeth aangespreek.  Die gepaardgaande praktiese sessies het goeie reaksie uitgelok, en die vrug daarvan is alreeds sigbaar.  Ds Pieter Kriel het met sy boeiende reeks preke die essensie van evangelisasie aangespreek, en menigte harte aangeraak en gemotiveer.

Pieter Kriel en Elizabeth Prinsloo het direk huistoe vertrek na die seminaar in Vladikavkaz.  Stefan en sy vrou, Hensie, het my egter vergesel vir die res van die reis deur die Oekraïne en geëindig het in Moskou.

Bid asseblief saam met my dat die afgevaardigdes sal vasstaan in die Woord, en blywende vrugte sal pluk in hulle onderskeie bedieninge.  Bid asseblief ook vir ons medewerkers Elizabeth, Pieter, Hensie en Stefan, wat almal voltyds in diens van Die Koning is!

 

Die Gebedsgroep  

Met Elizabeth se hulp is ‘n gebedsgroep in die kerk gevestig.  Nadat die doel en visie as grondslag gelê is, het die groepie toegewyde gelowiges met groot ywer en erns die Here se teenwoordigheid in gebed begin soek.

Bid asseblief saam met ons vir hierdie jong gebedsgroep.  Hulle eerste gebedsversoek is vir hulp met die kerk se lof- en aanbiddingspan.

Lena, wat ‘n hart vir gebed het, begin ‘n gebedsgroep

Azerbaijan en Dagestan

Dringende opvolgwerk moet gedoen word in die lande Azerbaijan en Dagestan, beide ontoeganklike Moslem-beheerde lande, vanwaar Rovshan en Kamahl (afgevaardigdes na die seminaar) afkomstig is.  Ons is in die bevoorregte posisie om toegang tot Dagestan te hê.  Azerbaijan is meer toeganklik, maar om daar te bedien is byna onmoontlik.  Volgens Patrick Johnston is daar skaars meer as 50 Azerbaijani Christene in die land.   Volgens Patrick Johnston is daar skaars meer as 50 Azerbaijani Christene in die land.

Bid asseblief saam met ons dat die Here ons in staat sal stel om die gemeentes van hierdie onbereikte volke te bedien.

Rovshan and Kamahl

Rovshan ex Azerbaijan en Kamahl ex Dagestan

Doof... in Vladikavkaz

‘n Ander interessante deur het oopgegaan in Vladikavkaz – bediening aan die dowes.  Met die hulp van Pastoor Ashod kon ons ook ‘n groot groep dowe Christene oplei.  Stefan en Elizabeth het hulp verleen om die beginsels van Bybelstudie en Stiltetyd oor te dra.  Die reaksie was oorweldigend – tot so ‘n mate dat ons beplan om die volledige klankprogram op videokasset op te neem.

Die dowes in Rusland is as’t ware ‘n bevolkingsgroep op hul eie.  Die sowat 8,6 miljoen dowes in die Nuwe Sowjet Unie is grotendeels die gevolg van swak lewensomstandighede, ‘n gebrek aan voldoende mediese fasiliteite en swak ekonomie wat moeders dwing om te werk wat weer lei tot die verwaarlosing van kinders.   Dowes word meerendeels verwaarloos, selfs geïgnoreer deur die staat, wat hulle as ‘n las beskou.  Daar bestaan geen instansies van noemenswaardige belang wat na hulle behoeftes omsien nie.  Die kerk, vasgevang in die starheid van die Russiese samelewing, is die enigste wat na hulle uitreik, dit wel deur evangelisasie.  Dit word verder gevoer deur pogings om vir die dowes werk te kry.

Die Here het dit op ons harte gelê om te help in die moeilike taak om die dowes te evangeliseer, deur eerstens die volledige dissipelskapprogram op videokasset op te neem.  Pastoor Ashod is bereid om ons daarmee te help, saam met twee (horende) dogters van dowe ouers.

Pastor Ashod

Pastoor Ashod – ‘n Musiek Konservatorium gegra-dueerde met ‘n visie vir dowes, besig om in gebaretaal te preek by ‘n uitreik geleentheid

Die benodigde mense en plek is beskikbaar vir die taak – al wat kort is die toerusting.  Met ‘n paar fotografiese lampe, ‘n uitsaaikwaliteit digitale videokamera en uiteraard die nodige fondse om na Vladikavkaz terug te keer, kan die groot taak realiseer.

Bid asseblief saam met ons vir die behoeftes van die dowes in Rusland, waarvan die dringendste die verkryging van ‘n uitsaaikwaliteit videokamera is.

Die Jesusfilm vir die dowes van Rusland

Pieter (Ds Kriel) het ook fotograaf gespeel en ‘n grootse taak verrig deur die volledige Jesus film op te neem in die dowes se gebaretaal.  Met groot insig het hy aangevoel dat dit die aanvangsprojek kan wees vir die dowes in Rusland – aangesien dit ook meer ekonomies sou wees as die volledige Dissipelskapprogram.  Die idee is om ‘n blokkie in die regter onderste hoek van die film aan te bring vir die dowes.  Ons dank die Here, en ook vir jou, Pieter!

Bid asseblief saam met ons dat die Jesus Film-bestuur in die VSA die konsep en die projek sal aanvaar.

Rusland en Oekraïne Uitreik 2001

‘n Direkte gevolg van die enkele Vladikavkaz uitreik, is dat meer as 14 kerke en 40 groepe (vanuit Suid-Rusland en baie ander state – sommige so ver weg as Azerbaijan in die Suide), nou ‘n gefokusde en suksesvolle dissipelskap program het waarin hulle opgelei is om te vermenigvuldig in hulle eie gemeenskappe.  In kort het die hele seminar gefokus op die toepassing van die Stiltetyd, Gebed en Bybelstudie in die gelowige se lewe.  ‘n Verdere seën is die eerste radio uitsending van die radioprogram in Vladikavkaz!

Gedurende die laaste uitreik was die vestiging van die dissipelskap material nie net beperk tot Rusland nie, maar ‘n verdere 18 kerke in die Oekraïne het nou ook opleiding in die materiaal.  Dit bring die totaal op 24 kerke in totaal, met meer as 90 groepe waarin die program funksioneer.  Ons bid dat dit moontlik sal wees vir ons om hierdie jaar vir ‘n verdere twee besoeke terug te keer.  Deur steeds hierdie jaar terug te gaan, kan dit moontlik wees om dit uit te brei na meer as 100 kerke met meer as 1000 funksionele dissipelskap-groepe.

Gedurende volgende jaar sal die klem val op konsolidasie van die bestaande groep wat opgelei is om hulle toe te rus om die werk self uit te brei.  Die essensie van ons visie is om ‘n kerkplantings-beweging te implementeer.  Ons is u innig dankbaar vir u getrouheid teenoor u roeping saam met ons, nie alleen deur u volgehoue gebede ter wille van ons nie, maar ook deur u materiële ondersteuning vanuit eie bronne.  In alles en te alle tye het u saam met ons God se volmaakte Wil gesoek in die uitdra van die Evangelie aan die verlorenes.  Deur ons persoonlike gebede vir u bewys ons graag die liefde terug wat u so vrylik aan ons gegee het ter wille van die Groot Opdrag.  Dankie – mag die Here u seën.  Met beperkte bronne en slegs ‘n handvol getroue medewerkers, is ons besig om ‘n groot taak vir die Here te vermag.  Ons ervaar God se seën in die oorvloedige vrug op ons arbeid, veral in omstandighede wat soms onoorkomlik lyk.  Sonder Sy seën en ingryping sou hierdie bediening nie moontlik gewees het nie.   Ons gee aan God al die eer vir alles wat tot dusver al bereik is.

Bid asseblief saam met ons vir die Here se volgehoue voorsiening in die uitvoer van die DOTA 1 dissipelskap program.

Lutsk - Wes Oekraïne

Die Wes-Oekraïne is een van die areas in Oos-Europa wat ekonomies die swaarste getref is.  Die toestande in die dorp Lutsk is geen uitsondering nie. 

Past. Anton Naseravitch het vertroud geraak met die Door of Hope Dissipelskap program, en selfs in die Nuwejaar ‘n seminaar in Lutsk ge-reël.  Ongelukkig het sy gesondheid só verswak dat hy genoop was om al die reëlings met ons te kanselleer.  Die rukkie wat ons daar was, kon ons sien dat hy werklik by die dood omgedraai het.  Nogtans het hy geen moeite ontsien om oral in Lutsk na ons behoeftes om te sien nie.

Pastor Anton Nazeravitch

Pastoor Anton Nazeravitch

Voor ons vertrek het hy reëlings getref vir die vertaling van die dissipelskap program in Oekraïnies.  Alhoewel Oekraïners Russies kan praat en verstaan, het hulle ‘n hewige weerstand teen die taal.  Ons is geadviseer om die vertaling te doen ten einde die Evangelie meer toeganklik vir hulle te maak.  Ons het geen begroting vir hierdie projek nie, maar in die lig van hulle entoesiasme sal ons alles binne ons vermoë doen om hulle te help om die vertaling te voltooi.

Die vertaling kan gedoen word teen ‘n fraksie van die Russiese vertaling se onkoste.  Mira, wat ‘n Universiteits-graad in tale behaal het, het onderneem om die vertaling te behar-tig en het alreeds goed gevorder daarmee.   Ons is innig dankbaar vir haar bereidwilligheid en opoffering. 

Mira Kargitch

Mira Kargitch

Bid asseblief saam met ons vir Pastoor Anton se gesondheid, asook vir God se voorsiening – sy familie het ‘n tydperk van groot ekonomiese tekortkoming beleef.  Alhoewel fisies steeds baie swak, is Pastoor Anton oppad na herstel. 

Bid asseblief ook dat die Here Mira sal onderhou, versterk en beskerm.  Dit is ‘n erkende feit dat diegene wat betrokke is in die vertaling van die Bybel en Christelike literatuur ‘n teiken is vir aanvalle van die duiwel.  Bid ook dat die Here vroegtydig sal voorsien in al die behoeftes sodat die werk nie vertraag sal word nie.

Sasha Zavadski   

Ons het ook ‘n aangename tyd saam met pastoor Sasha Zavadski in Odintsovka gehad, waartydens ons baie met mekaar kon deel.  Stefan het weereens opleiding in die Bybelstudie- en Stiltetydmetodes gegee.  Sasha se bediening daar het alreeds baie gestabiliseer.

Terwyl ons daar was, het ons ook die kerk voorsien van Bybels wat dringend benodig word (insluitend Kinderbybels).

Bid asseblief saam met ons vir die behoeftes van Pastoor Sasha en sy bediening in Odintsovka.

Gevangenisbediening

Die uitreik het op ‘n hoë noot geëindig.  Net voor ons vertrek het die Here nog ‘n groot en effektiewe deur oopgemaak deur Broer Alexander Zacharov en sy suster, Nadeshda Zachirova.  (Nadia is a kern-fisikus wat ‘n sendeling geword het!)  Hulle is onder andere diep betrokke in bediening onder gevangenes.  ‘n Opleidingseminaar met die Door of Hope Dissipelskapprogram moet eerstens vir die werkers in die gevangenis aangebied word, voordat dit in Bybelstudie- en Gebedsgroepe in die gevangenisse aangebied kan word.  Die vooruitsig is dat ongeveer 100 afgevaardigdes so ‘n seminaar sal bywoon.  Die opvolgwerk in die gevangenisse self is ook nog ‘n moeilike taak wat voorlê.

Bid asseblief saam met ons vir hierdie dringende behoefte, asook dat die Here alles wat nodig is vir ‘n span om die opleiding te gee, sal voorsien.

‘n Masedoniese Geroep vanuit die Filippyne

Tydens die uitreik in Rusland, het ons gekorrespondeeer met Pastoor Lito Agyam van Kapalong Pob in die Filippyne.  Sy bediening en gemeente het ‘n visie om die bergstamme met die evangelie te bereik.  Pastoor Agyam het reeds ‘n lewende bediening onder 9 geïsoleerde groepe inboorlinge begin, maar hulle grootste behoefte op hierdie stadium is om deur dissipelskap vanuit hierdie proepe die evangelie te verkondig – presies wat die doel is van ons program.  Van die 18 verskilende stamme is slegs twee al bedien met die Evangelie.  Nadat hy gehoor het van die sukses met ons program, het hy gevra dat ons sal help om dit in sy gemeente in werking te stel.

Groot behoefte bestaan ook onder die Waray-Waray van die Samar en Leyte Eilande, wat steeds onderhewig is aan Kommunistiese guerrilla aktiwiteite.  Die ontsettende armoede en moeilike omstandighede verhinder Christen getuienis.

Bid asseblief saam met ons vir wysheid en befondsing vir hierdie dringende behoefte.  

 

Die Gebedskissie

In Vladikavkaz het Pastoor Piotr Lunitchkin ‘n klein gebedskissie aan ons oorhandig.  Dit is gemaak deur ‘n Tsjetsniese vlugteling, met die versoek:  

Bid asseblief vir ons.  Laat weet ons wanneer dit vol is, dan maak ons ‘n ander, groter een.”

Die gebedskissie is aan ons gegee om gebedsversoeke daarin te plaas en dan daarvoor te bid.  U is welkom om enige gebedsversoeke aan ons deur te gee, sodat ons dit aan die Here kan opdra.  

Bid asseblief saam met ons vir die kerk in Vladikavkaz, soos wat ons weer vir u bid.

 

Click here to receive our newsletter           Click here to make a contribution

Please share this newsletter by forwarding it to at least one other person.

Click here to unsubscribe

Direct all enquiries to Door of Hope Ministries at dohsa@mweb.co.za
Tel: +27(12)347 1165  or  Fax: +27(12)347 1279
http://www.doorofhope.org.za