Nuusbrief
Julie
2000
Die Nalatenskap van Anna
Bogér

Die
klein dogtertjie het alleen op die kant van die sloep gesit terwyl sy 'n
deuntjie geneurie het. Die deurdringende en onskuldige blou oë het intens,
maar sonder begrip, gestaar na die vinnig verdwynende figure op die kaai soos
die sloep stadig al verder van die kaai af na dieper water weg beweeg het op sy
tog al met die roete van die Vasugonrivier op pad na die uitgestrektheid van
Noord Siberië. Sy was alleenlik bewus van die drama wat voor haar
afgespeel het, van haar wat moes voortgaan, en van hulle wat moes
agterbly. Sy was 'n onskuldige, maar noodsaaklike deel van die tragiese
toneel. Anna het dikwels toegekyk hoe ander agtergelaat word met die
ongemaklike gevoel dat hulle agtergelaat word omdat sy weggaan. Baie maal
het sy ook gesien hoe die liggame van hulle wat op die tog omgekom het, sonder
pligpleginge oorboord in die vinnig vloeiende rivier gegooi is op sy lang tog af
met die Obb rivier en nou met sy sytak die Vasugon langs.
Hulle
was reeds nou al 'n hele paar weke op die water. Haar ma is as 'n "vyand
van die volk" veroordeel. As 'n gehate 'Kulak' (Die Kulakke was
landbouers wat deur ywerige en harde werk 'n entjie bokant die res van die
arm boeregemeenskap uitgestyg het), was sy skuldig bevind daaraan dat sy die 'rykdomme
van die Russiese Moederland' verkwis het. Haar vonnis (saam met baie
ander sulke gesinne en individue) was 'vryheid' in die verlatenheid van
Siberië. Die afstand van die tog, al met die rivier Obb langs vanaf
Altaiskii Krai op die Mongolese grens, was reeds meer as 1000 km. Anna se
moeder, saam met vyf jong kinders, het na Altaiskii Krai gegaan om naby haar
man, 'n Duitse bankier in Moskou, te wees. Hy is vir die een of ander duistere
rede tot 15 jaar tronkstraf deur die nuwe Stalinistiese regering van die vroeë
1920's, gevonnis.
Hulle gesin het laaste aan die beurt gekom om saam met die oorlewendes aan
land te gaan. Dit was net voor die Russiese winter en die voorrade vir die reis
wat haastig bymekaar gemaak is, was byna gedaan. Daar was reeds tekens van
die naderende herfs wat in die verkleuring van die blare te bespeur was, terwyl
die komende koue reeds in die lug was. Ten spyte daarvan is hulle aan wal
gesit met die opdrag om 'n nedersetting te stig en aanplantings vir die komende
somer te doen met 'n klein hoeveelheid saad wat aan hulle verskaf is! Daardie
nag het die gesin in 'n haastig saamgeflanste hut wat van beuke- en
dennetakke gemaak is, deurgebring. Daardie winter was die verwerkliking
van 'n ysige nagmerrie. Baie het weens of die koue of 'n gebrek aan
voedsel gesterf. Met daardie uitsonderlike dissipline wat 'n kenmerk van die
Duitsers is, het Anna se moeder alle voorrade so ingedeel dat dit die hele
winter sou hou. Sy het die bas van die beukebome fyngekap en deeglik tot
'n pulp gekook en daarna met meel en ander eetbare voedsel gemeng en gaar
gemaak. Dit het daartoe gelei dat hulle voedsel voorrade langer gehou het.
Hierdie gesin was van die min gesinne wat daardie winter oorleef het.
Hulle het God vir Sy genade gedank. Die lente het aangebreek en daar is
gesaai, want dit was groeityd. Na die somer is daar geoes, maar kort
daarna het die Kommuniste die oes opgeëis! Dit was 'n hartverskeurende
ervaring. So het hulle dan geleef totdat hulle vader vrygelaat is. Niks
kan die omvang van hulle lyding werklik beskryf nie.
Op 'n dag het
Anna se vader daar aangekom al met die rivier langs na baie weke se gesoek by
talle nedersettings. Dit was Anna se verjaardag en hy het koekies saamgebring om
die hereniging te vier. Na sy ontslag het hy navraag gedoen en gehoor dat
sy gesin rivier af gestuur is waarna hy die onmoontlike tog van 1000km al langs
die rivier met al sy menigte sytakke aangepak het. Hulle het die oorlog
van 1940 oorleef en die klein nedersetting het gegroei tot wat dit vandag is.
Deur al die wedervaringe heen het die gesin hulle geloof behou.
Deur
nogal merkwaardige omstandighede het sy met ons sending in verbinding getree met
die versoek vir opleidingsmateriaal wat hulle nodig het om die jongmense in die
dorpie te evangeliseer. In haar brief aan ons het sy aanwysings gegee oor hoe om
daar te kom. Aanvanklik het ons gevoel dat die reis te moeilik en
uitputtend sou wees. Daar is geen paaie na Novo Vasugon nie - slegs die
rivier of ski-vliegtuig moes gebruik word. Die naaste pad loop in 'n
noordelike rigting vanaf Tomsk na Kargosok - 'n afstand van 500km.
Novo Vasugon is ‘n verdere 300 km vanaf Kargosok per vliegtuig. Tomsk is
weer 4 vliegure vanaf Moskou.
Toe
ons egter in Moskou aankom het hierdie projek swaar op my hart gelê en nadat ek
weer hulle brief gelees het, het dit my getref dat ek aanvanklik nie raakgesien
het nie dat die skrywer werklik 'n droom gehad het, maar nie veel hoop dat dit
'n werklikheid sou word nie. Nogtans was daar die vasberadenheid, die
beslistheid van iemand wat gesag het, iemand wat oorwinning na oorwinning
gesmaak het en iemand wat die krag van die Gees geken en in 'n lewende God geglo
het. Dit was 'n kort op die man af brief, geskryf in ou Russies wat nie
meer gebruik word nie. Dit het geëindig met die woorde: "Ons wag vir
jou". Tussen die reëls sou 'n mens kon
lees:"wanneer iemand kom, sal ons hier wees". Ek móés dus gaan.
Ons
aankoms in Novo Vasugon is met groot vreugde begroet - ons was die eerste
Westerse sendelinge wat hulle grond-gebied betree het. Die verhaal wat u
gelees het, het gepaard gegaan met 'n oproep om die Evangelie nie in Novo
Vasugon te laat sterf nie. Ons het gesels oor hulp met kassette van ons
nuut voltooide radioprogram en ander opleidingsmateriaal. Hulle was
verheug, en hulle het dadelik 'n stokou soort bandmasjien uitgehaal en na die
lesings wat ons saamgebring het, begin luister met die groot honger wat altyd
sigbaar is by Christene wat vir 'n leeftyd nie die evangelie gehoor het nie.
Ons kon hierdie pragtige ou gelowiges in niks anders geïnteresseerd kry terwyl
ons daar was nie. Nou het hulle 'n sleutel gehad om deure wat tot nog toe
gesluit was, oop te sluit. Daar was natuurlik ook baie dinge wat wedersyds
met mekaar gedeel is gedurende die paar dae wat ons daar was en met ons vertrek
het ons die pyn beleef wat gewoonlik gepaard gaan met 'n vriendskap wat op
liefde gebaseer is. Alhoewel Anna slegs 600 Roebels per maand ($30)
kry, was sy baie verontwaardig toe ons haar onkoste wou dek. Wat 'n waardige en
opregte Christenvrou is sy nie?

Ek,
saam met sewe mooi dames!
Vandag
is hierdie nedersetting bekend as Novo Vasugon, wat die "Nuwe Nedersetting
langs die Vasugon rivier" beteken en Anna Bogér is nou 78 jaar oud, en sy
bid nog elke aand in Duits om sodoende haar moedertaal lewendig te hou. Al
haar kinders praat nog Duits. Elke dag melk sy nog haar koei wat
help om in hulle moeilike bestaan behoue te bly. Daar is slegs 8 gelowiges
oor in Novo Vasugon (almal vrouens) wie se ouderdomme wissel van 75 tot 86
jaar. Hulle mans het lankal reeds na ‘n ander lewe vertrek en dis op
hierdie tydstip dat ons met haar in aanraking gekom het. Anna Bogér het
nie gevra nie, maar daar ís behoeftes. Hulle benodig werklik 'n goeie
bandmasjien vir gebruik by klein groepies. Hulle het ook die ondersteuning
van 'n voltydse pastoor en volgehoue hulp van die bediening wat ons begin het,
nodig. In haar laaste brief wat ons pas ontvang het, vra sy vir
addisionele kopieë van ons kassetbediening vir haar dorp asook die naburige
distrikte langs die Vasugonrivier.
Sal
ons suster, Anna Bogér nog lank genoeg leef om die vrugte van baie jare se
getroue toewyding aan die Evangelie te sien? Sal sy sien hoe haar visie
'n werklikheid word? Sal daar híerdie keer 'n nalatenskap wees vir hulle
wat agtergelaat word ............... in Novo Vasugon?
Vandag is daar baie Christene
in Rusland soos Anna Bogér wat die nalatenskap van die Evangelie van Jesus
Christus aan die volgende geslag wil oordra. Sommige is jonger,
maar die begeerte is dieselfde. Hulle roep desperaat uit na 'n wêreld
waar daar oorvloed is, maar daar is min wat die stem van die martelare
hoor. Hoeveel langer moet hulle ly, ontneem van die dringend benodigde
hulpbronne om hulle eie mense te kan evangeliseer? Die werk in die
akker van die Here vereis tans toegewyde mense om die oes in te samel.
Hulle wat nie self kan gaan nie, maar ander ondersteun, is net sulke sendelinge,
as hulle wat uitgestuur word. Jesaja
6:8.

Die
antieke 1948 ski-vliegtuig en my tolk Lena
Die
vlug vanaf Kargosok na Novo Vasugon toe was in bostaande ou vrag ski-vliegtuig.
Weens ‘n algehele gebrek aan verwarming was die vlug ysig. Die tolk Lena was
sommer gou groen om die kiewe en lelik vlugsiek, maar die uitmuntende
vaardigheid van die Russiese vlieëniers het vergoed vir alle ongerief.
Hulle is oor die algemeen grade beter as wat in die Weste gevind is. (Ek kan met
gesag hieroor praat angesien ek ook vir baie jare ‘n vlieënier was).
TERUGVOERING:
Oral
was daar positiewe reaksie op die Dissipelskapprogram. Daar is 'n behoefte aan
soveel bande en kassette as wat ons kan voorsien. Ons het reeds 'n
skenking ontvang om 'n aanvanklike hoeveelheid programme te dupliseer. Dis reeds
uitgevoer, maar daar is 'n groeiende behoefte vir nog meer. Die
duplisering van bande het duur geword en dit sou lonend vir ons wees om die
duplisering op aanvraag self te doen - ons het 'n bron ontdek waar ons leë
kassette goedkoop kan bekom. Bid asseblief vir leiding en vir die
behoeftes.
Ons loof die
Here vir die baie oop deure wat vir ons gegee is. Seminare en lesings is
by verskillende plekke in die Ukraine en Rusland gehou. Interessante werk
is ook in verskeie kerke begin wat ons vertrou in plaaslike
sendelingopleiding-sentrums sal ontwikkel hierdie werk moet dringend
opgevolg word as die ware vrugte van ons laaste besoek aan Rusland verwerklik
moet word. Ons kon ook in verskeie Pinkster en ongeregistreerde Baptiste
Kerke met goeie gevolg optree. Dit dui op die aanvaarding van die program oor 'n
breë spektrum van kerk denominasies. Selfs 'n Ortodokse Priester het
belangstelling in ons opleidingsmateriaal en kerkleierskaps-kursusse getoon!
Hierdie sensitiewe projek vereis groot wysheid.
Al
die voorgaande was baie bemoedigend in 'n wêreld wat as't ware versadig is van
opleidingsprogramme. Ons vertrou en wag op die Here vir Sy tyd en leiding.
Ons onderwerp ons aan Sy wil. Bid asseblief vir wysheid in al ons sending-aktiwiteite!
Bid asb. ook vir meer betrokkenes.
Ons
volgende nuusbrief sal meer uitwei oor sowel die Russiese sigeuners en hulle
behoeftes, as die omvattende werk wat tans deur Russiese sendelinge in Suidelike
Rusland gedoen word. Weereens, baie dankie vir u milde ondersteuning wat
hierdie bediening moontlik maak.
Ewald Joubert
Click
here to receive our newsletter
Click
here to make a contribution
Please
share this newsletter by forwarding
it to at least one other person.
Click
here to unsubscribe
Direct all enquiries
to Door of Hope Ministries at dohsa@mweb.co.za
Tel: +27(12)347 1165 or Fax: +27(12)347 1279
http://www.doorofhope.org.za
|